Johanna Margaretha Van Aarde (2024)

EGGSA Grafsteen /Gravestone

Boedel / Estate No. VAB MHG O605

Bydrae deur David Abraham Swanepoel onderhewig aan vrywaring in my profiel. Inligting mag gebruik word onder lisensie Attribution-NonCommercial-NoDerivatives 4.0 International tensy ‘n ander regspersoon se kopiereg aangedui word.

Storielyn en feitelikheid: Begin deur die volgende 3 skakels te lees.

Die legendariese Hannie Wolmarans / Johan Wolfaardt. Eensgesind 10 Feb 2021 Skakel

Die legendariese Hannie Wolmarans / M.A. Venter. Culna No 27, September 1984 Skakel

Die ongekroonde Victoria / Ronel Theart. Bloem Snippets Uitgawe 365, 11 Februarie 2016. Dieselfde artikel verskyn in Kalahari Snippets Uitgawe 48 17 Februarie 2016. Skakel

Ek herinner my ook 'n artikel in Huisgenoot of Sarie tydskrifte. Die swart pleegkind wat die sleutels gedra het, was altyd in 'n pak klere geklee.

Inligting kom nie altyd ooreen nie. Almal steun moontlik op ‘n hoofstuk in Systap onder die Juk / Dot Serfontein. Human & Rousseau, 1969

Dot Serfontein (1925-2016) was ‘n gevierde skryfster van Kroonstad, nie ver van omgewing waar Hannie Odendaal gewoon het nie. Sy sou waarskynlik historisiteit korrek probeer hou het. Die eerste uitgawe van die boek verskyn eers in in 1969. Sy kon wel baie vroeër inligting begin versamel het. Dit sou egter ook nie voor haar eie volwassenheid gebeur het nie, in die 1940s. Teen hierdie tyd sou enige persoon wat Hannie eerstehands geken het, toe jonk was, maar later al bejaard wees. Ons sit dus eerstens met die probleem van geheuevervaging en -verwringing. Met so ‘n buitengewone narratief weet mens nie of daar aangedik is nie. Sy sou egter nie berugtheid verwerf het as sy “normaal” was nie.

Op ‘n Facebookgroep lewer iemand kommentaar: “regte boeretannie”. Niks kan verder van die waarheid wees as mens haar krities bestudeer nie. Sy was ‘n uiters komplekse mens, as mens veral haar arbeids-en rasseverhoudings beskou. Meer detail later.

Laat ons eers uitpluis wat saakmaak vir genealogie en die twyfel oor haar getroude status. Volgens eggenoot Wolmarans se boedeldokumente en hulle gesamentlike testament (sien sy inskrywing) was hulle wel binne gemeenskap van goedere getroud. Met Van Aardt was dit buite, maar hierdie huwelik was kort, en op hulle oudag.

Sy het geen kinders gehad nie, soos duidelik op haar man Wolmarans se SK verklaar. Haar broer onderteken haar SK. Sy is 44 met haar eerste huwelik of kohabitasie en basies verby reproduktiewe ouderdom en heeltemal met haar tweede huwelik.

Staatsregtens was Wolmarans en Hannie hiervolgens blykbaar wel getroud, maar ander dokumente dui op die teenoorgestelde. Wolfaardt se argument dat Hannie alle dokumente as Odendaal teken is korrek. Dit is tot en met Wolmararans se SK en haar huweliksertifikaat met Van Aardt. Op haar eie testament is sy egter mev van Aardt in die aanhef en ondertekening. Het Wolmarans en Hannie ‘n valse verklaring in hulle testament gemaak? Hoogsonwaarskynlik. Dis nie onbekend dat na getroude vrouens op hulle nooiensvanne verwys word nie, en met haar persoonlikheid het sy dalk bloot geweier om sy van aan te neem.

Op haar huweliksertifikaat met Van Aardt teken sy as J.M. Odendaal, weduwee Wolmarans.

Huwelik met Van Aardt

Of daar enige kerklike inseëning met Wolmarans was, kan dus bevraagteken word. Ek vind geen huweliksertifikaat op FamilySearch nie. Dit beduie niks, nie alles is al geskandeer nie. Vorige navorsers het egter skynbaar deeglik gesoek vir ‘n trousertifikaat in kerklike argiewe en niks gevind nie.

Dit pas in by die profiel van mense wat leef “volgens wette wat hul vir hulselwers en ander voorgeskryf het met die handsambok en herneuter mes.” Of soos in my klein dae gepraat is “jou aan geen god of gebod steur nie”. Die ou mense was geensins vroom nie. Tekenend hiervan is Louis Tregardt se trek waar geen godsdiens beoefen is nie en die sabbat nie, nie eers Kersfees, onderhou is nie. Tregardt het wel op ‘n manier orde binne sy geweldadige, vloekende trekgeselskap gehandhaaf. Hannie Wolmarans bevind haar ‘n trap verder: nader die psigologiese kader van Jannetjie de Klerk en Kwade Martha Ferreira.

Ek het geen probleem met sterk vroue nie. Ek het heelwat geken. Ek kan my ma en een ouma insluit (die ander is oorlede toe ek 5 was). Ek het groot geword in ‘n tyd toe patriargie nog sterk geloop het, alhoewel verandering begin intree het. Nie een van die kwaai boeretannies het “left right and centre” aangerand nie en sou kaal deur riviere geswem het nie! Hulle was baie meer gematigd en redelik.

Visagie (Voortrekkerstamouers 1834-1845 / Jan C. Visagie. Protea Boekhuis, 2011) lys haar pa as ‘n voortrekkerstamouer, maar dis onseker wannneer hy getrek het (p. 341) Teen 1848 is hulle in Natal en in 1858 erf sy die plaas Makawaanstat, by Lindley maar destyds in die Landdrosdistrik van Kroonstad. Dit was waarskynlik die setel van die Bataung stamhoof Makwana, wat grond aan Andries Hendrik Potgieter gegee het ruil vir nege-en-veertig beeste en die belofte van beskerming teen die Matebeles.

Die Odendaals se behandeling van die landmeter Orpen was totaal en al wetteloos en onchristelik. Hulle het kinderslawerny be-oefen – ‘n ongelukkige nalatenskap van die Britte se gebruik van “inboeking” wat die setlaars in die noorde ‘n skuiwergat gegee het om slawerny voort te sit. Haar behandeling van Orpen en die werker wat sy wou ophang, kom basies op poging tot moord neer. Watter “Koos” en “Kleinkoos” by die Orpen insident betrokke was is moeilik om te bepaal want daar is te veel Jakobusse in die familie.

Reeds in haar gesamentlike testament met Sewes Wolmarans word bepaal dat met die dood van die eerste testateur, 600 morge grond aan ‘n “kleurling”, ene Joseph bemaak word, dit is ‘n “deel van die plaas Rietfontein waar die heer Spengler tans woon”. Daar word net na “Joseph” verwys, mense van kleur se vanne was nie van veel belang destyds nie. Sien egter vorentoe.

Voor Joseph genoem word, erf ‘n hele aantal mense. Party is Odendaals of Wolmaranse, die ander se verwantskap onduidelik, moontlik skoonfamilie of bywoners. Ek het nie die verwantskappe probeer nagaan nie. Dit wil voorkom of almal dadelik blooteienaars word van hulle vererfde grond, maar die langslewende behou vruggebruik en daar bly selfs onge-ag daarvan ‘n ruim boedel oor vir Hannie.

Kort voor haar afsterwe stel sy haar eie testament op. Hierdie is net in die vorm van ‘n be-edigde Engelse vertaling op FamilySearch. Hierin kry “Joseph” weer ‘n ruim bemaking en word heel eerste genoem.

Sterfkennis en boedeldokumente

“My cart and 2 horses, wagon with trek-gear, four oxen, 6 cows, fifty (50) sheep and two hundred pounds in cash (sterling).

Vervolgens word aan “Josephus Johannes, son of Joseph aforementioned” £350 kontant bemaak.

Daarna volg die name van verskeie persone wat as “coloured” aangedui word. Hulle ontvang verskillende waardes aan vee en/of kontant, meesal ruim.

Eers daarna word Willem Jacobus Odendaal en Adriaan Cornelis Odendaal genoem as arfgename, met £200 elk, aansienlik minder as “Joseph” in totale waarde en “Josephus Johannes” aan sy kontant. Daarna deel sy ook haar klere uit aan wit en gekleurd in haar testament.

Adriaan Cornelis Odendaal word as eksekuteur aangestel. Hy het te doen met “Josephus Johannes Wolmarans” wat sy wa en osse eis en hy doen dit deur ‘n prokureur. Dus is dit “Joseph” senior. Adriaan betwis dit en beweer dis reeds gelewer “amongst many other things” in 1897. Die meriete van die saak gaan ek nie verder op in nie, lees maar op FamilySearch. Vir genealogiese doeleindes, wat is die agtergrond hierdie “certain native” soos dit op Adriaan se eedsverklaring voorkom? Waarom dra hy die volle name van Josephus Johannes Wolmarans, Hannie se man en dra dit ook oor aan sy seun? Hoekom word hulle so voorgetrek?

Joseph jr word in die gesamentlike testament aangedui as in die huis van die (eg?)paar opgevoed “en is steeds in diens”. Hy was waarskynlik die draer van die mandjie sleutels. Hy was dus nie verhewe bo die blankes soos ek (dalk verkeerdelik) onthou die interpretasie van die Huisgenoot of Sarie artikel was nie. Aan die anderkant kom dit neer op kinderarbeid, want in die gesamentlike testament word voorsiening gemaak vir voogdyskap oor hom sou Sewes en Hannie te sterwe kom. Ek is seker hy sou eerder in gemakliker klere met kinders van sy portuur wou sosialiseer. Die vraag is ook hoe hy later in sy lewe sou inpas in die gemeenskap as welaf bruinman wat afgesny was van andere, meesal arm bruin mense in sy grootwordjare. Deur die blankes sou hy ook nie aanvaar word nie. Hoe het hy in die Wolmaranse se huis beland? Is sy moeder oorlede? Sy pa is nog in lewe na Hannie se dood en het hy dus nie ‘n voog nodig gehad nie. Is hy bloot as “slaaf” deur Hannie van sy pa (of dalk beide ouers) wgeggeneem?

Een moontlikheid is dat “coloured” Josephus Johannes Wolmarans sr ‘n ondokumenteerde neef was van die blanke een, wie se voorouers een of ander tyd noordwaarts getrek het, miskien sy ouers met die Groot Trek. SAF 2018 noem verskeie mense met die naam, maar hulle pas nie in wat geboortedatum betref nie. Sewes en Hannie is wel ingesluit: d4b12c4d4 Josephus Johannes * 13.3.1824 George 24.7.1824 † “Makawaanstad”, dist. Kroonstad 26.8.1896 (MHG VAB W626) x Johanna Margaretha ODENDAAL * 27.5.1930 (sic) Somerset-Oos 26.12.1830 † 8.2.1903 d.v. Jacobus Paulus Odendaal en Wilhelmina Michielina Hamman (sy xx Hendrik Francois van Aardt)

Hannie moes wel darem ‘n Christen gewees het, want sy bemaak haar dorpserf in Lindley aan die NG Kerk. Die feit dat sy dit heel laaste op die testament noem dui egter daarop dat die kerk nie hoog op in haar gemoed was nie. Daar kan ook genoem word dat die huwelik met van Aardt voltrek word deur ‘n dominee, H.E. du Plessis, DVM, maar wel op Makawaanstat, gemeente Lindley en nie in ‘n kerk nie.

Haar persoonlikheid was kompleks. Aan die een kant is sy filantropies. Haar ondersteuning en bemakings aan mense van kleur was uiters ongewoon vir daardie tyd. Om ‘n kind van kleur in jou huis groot te maak, nog meer. Terselfdertyd was sy so geweldadig dat sy waarskynlik psigologies onstabiel was. Haar gedrag herinner aan die van Jannetjie de Klerk / Jeanne le Clerq wat haar slavin vir 3 dae deur haar man laat folter het, bloot omdat sy nie ‘n pan na haar standaarde gewas het nie. Sy en haar man Peter Becker se agterkleindogter “Kwade Martha” Ferreira, was ook wreedaardig. Hannie se aksies was net meer impulsief en die ergste darem voorkombaar. Om darem die Basothovrou te wou ophang oor swak werk... dan is ons by Jannetjie de Klerk se persoonlikheidstipe.

Indien nie ‘n volwaardige psigopaat nie, doen ek dissosiatiewe identiteitsversteuring aan die hand, beter bekend as ‘n gesplete persoonlikheid. Een newe-eienskap wat kan voorkom is buierigheid.

Sy wou tussen haar mans begrawe word. Volgens Venter: “As die oordeelsdag aanbreek, kan ek by die twee ou bulle inhaak en die Hemelpoorte tegemoet gaan”. So nou is Sewes Wolmarans ‘n bul, nadat sy hom verneder het as met “seil, seil op jou agterent, soos die adder wat jy is!” (Wolfaardt). Weereens ‘n aanduiding dat sy teen die einde van haar lewe wel nominaal ‘n Christen was.

Die kwessie rondom die opkommandering van die perde en haar ooreenkoms in voorkoms met Koningin Victoria verskil in die bronne. Theart skryf: "Met die oorlog goed op dreef was dit moeilik om te bepaal waar Hannie se lojaliteit gelê het. Beide Boer en Brit het perde nodig gehad. Daar word vertel dat genl. De Wet perde broodnodig gehad het. Hy stuur vir Arthur Stead om Hannie se perde te gaan vat. Iewers het [Stead] die mondering van ‘n Engelse offisier gekry en is weg na Makawaanstat. Toe Hannie by die huis kom het hy droomverlore in die voorhuis gestaan en staar na ‘n foto van haar. “But where did you get this portrait of our beloved Queen?” het hy ewe ernstig vir Hannie gevra en weer na haar gestaar. “But ...but.... you must be the Queen!” Hannie se ego is so gestreel deur hierdie opmerking dat sy sonder slag of stoot die perde aan hom gegee het.”

Nou, al is jou naam Christiaan de Wet, sou dit uit wat ons weet, nie ‘n goeie idee gewees het om Hannie se stoetperde te gaan konfiskeer nie. Wie Arthur Stead was kan nie met sekerheid bepaal word nie. ‘n Man met die naam het in 1900 na Natal gekom. Ene William Thomas Stead was soos Emily Hobhouse ‘n aktivis teen die ABO. Of Arthur familie was, kon nie bepaal word nie. Beslis nie ‘n seun nie, want sy pa was ook Arthur. Arthur jr was ‘n landbouchemikus en het belangrike wetenskaplike werk na die oorlog gedoen. C Plug, Skakel

Die feit dat Hannie onder indruk was hy was ‘n Engelse offisier en hy haar maklik beinvloed, oorrompel het deur te sê dat sy net soos koningin Victoria lyk, maak haar weereens irrasioneel. Dis egter wat gebeur as jy uiters dominerend en ydel is. Haar lojaliteit wat bevraagteken word, was wel by die Republikeinse saak, ondersteun deur Wolfaardt se bewering dat sy finansieel daartoe bygedra het en haar leidinggewing om die joiners se waens te gaan opkap vir brandhout. Dis net dat sy soos blits kon omswaai as sy die regte (of verkeerde!) stimulus gekry het.

Ek is nie ‘n sielkundige nie, maar my lekemening is dat sy in verskeie opsigte versteurd was.

Johanna Margaretha Van Aarde (2024)
Top Articles
Latest Posts
Article information

Author: Clemencia Bogisich Ret

Last Updated:

Views: 5620

Rating: 5 / 5 (60 voted)

Reviews: 91% of readers found this page helpful

Author information

Name: Clemencia Bogisich Ret

Birthday: 2001-07-17

Address: Suite 794 53887 Geri Spring, West Cristentown, KY 54855

Phone: +5934435460663

Job: Central Hospitality Director

Hobby: Yoga, Electronics, Rafting, Lockpicking, Inline skating, Puzzles, scrapbook

Introduction: My name is Clemencia Bogisich Ret, I am a super, outstanding, graceful, friendly, vast, comfortable, agreeable person who loves writing and wants to share my knowledge and understanding with you.